"WAAR POTENSIAAL VERWESENLIK WORD!"
  041 360 1257

DONASIES / SKENKINGS

Die FRALUMNI word onder die Hoërskool Framesby Opvoedkundige Trust bestuur.  Hierdie is 'n Artikel 18A trust wat maatskappye toelaat om donasies / skenkings van belasting af te trek.  Sou u dus 'n belastingafskrywing vir 'n baie nuttige doel wil maak kan u gerus 'n skenking aan die trust maak.

 

Bankbesonderhede:

Hoërskool Framesby Opvoedkundige trust

FNB

Rekening nommer: 62747500983  
Takkode: 210517


Swift Code FIRNZAJJ 

OUDSKOLIERE SAMEKOMS REUSESUKSES!

Image4.

OUDSKOLIERE SAMEKOMS REUSESUKSES!
Die eerste oudskoliere samekoms het op 11 Junie 2022 in Kaapstad by Hoërskool D.F. Malan plaasgevind. Dié samekoms was deur 60 oudskoliere en -onderwysers bygewoon. Dit was ‘n heerlike aand van samesyn en ons sien uit om dit ’n jaarlikse instelling te maak. Baie dankie aan almal wat die aand moontlik gemaak het en dit bygewoon het.
Die volgende samekoms vind op 10 September in Pretoria plaas. Hou die Fakkel-Flitse sowel as ons Facebook-blad vir verdere inligting dop.

FRAMESBY OUDSKOLIERE (FOS)

‘n Paar van ons oudskoliere, Deleon van Rooyen (Klas van 1990), Hannes van Vuuren en sy vrou Barbara (beide Klas van 1991), en ek het gedurende 2019 bymekaar gekom en besluit om die inisiatief te neem om die Framesby Oudskoliere Vereniging op die been te bring. Ons al vier is trots dat ons deel was van die wonderlike geskiedenis van die skool en is steeds passievol oor die Hoërskool Framesby. Hierdie passie en trots kan duidelik gesien word in die pragtige wapen wat Deleon vir FOS ontwerp het. Ek is seker dat almal sal saamstem dat dit ‘n uitstekende ontwerp vir ons is!


Met die ondersteuning van mnr. Germishuys, Framesby se skoolhoof, en sy personeel, het ons ‘n stigtingsvergadering vir Oktober 2019 gereël . Gedurende die vergadering is ons vier verkies tot die FOS-Komitee.


Ons doelwit vir FOS is soos volg:
• Om alle oud leerlinge, vanaf 1970 tot nou, betrokke te kry by FOS. Sodoende kan ons ‘n sterk en aktiewe
sosiale en professionele netwerk skep;
• Om ‘n aktiewe bydrae tot die ontwikkeling van die Hoërskool Framesby en die leerders van die skool op
alle gebiede te lewer.


Baie het reeds gevra wat bedoel word met ‘n professionele netwerk. Ons doelwit hier is dat ons as oud-leerders mekaar op ‘n professionele vlak sal ondersteun. Ons wil ‘n platvorm skep waar oudskoliere hul besighede kan adverteer, waar in Suid-Afrika hulle ookal is, en dat ons hulle dan ondersteun. Dit kan dan amper dien as ‘n “Geelbladsye” van besighede en dienste wat deur oud-leerlinge besit/bestuur word.


Verder in die toekoms sal ons graag ‘n elektroniese Toep wil ontwikkel, waar FOS-lede hul besighede en dienste kan adverteer. Ons wil ook lidmaatskap inligting en nuus so versprei. Ons moet egter eers kruip voor ons kan hardloop, maar ons glo dat die toekoms van FOS blink is.
Die sosiale netwerk is natuurlik maklik om te verduidelik – ons wil ‘n tuiste vir oudskoliere skep om bymekaar te kom en ou vriende te ontmoet en nuwe vriende te maak. Ek verstaan dat die nuwe klubhuis van die Framesby Ondersteunersvereniging amper voltooi is. Dit sal in April 2021 amptelik geopen word. Ons wil graag die klubhuis as ons tuiste sien waar ons op Vrydaeaande gesellig bymekaar kan kom.
Hierdie initiatief word in ons vrye tyd bestuur. Almal weet dit sal dit nie ‘n sukses kan wees sonder die hulp en ondersteuning van die oudskoliere nie. Ons vra dus elke oud-leerling om hulle besonderhede aan die skool te stuur by die volgende e-posadres - fos@framesby.co.za.
Dit sal ons en die skool help om oud-leerlinge op hoogte te hou van alle verwikkelinge en funksies van die skool en FOS. Ons is ook oop vir enige voorstelle. Kontak ons direk op Facebook Messenger. Ons sal enige insette opreg waardeer.


Hou asseblief die FOS Facebookbladsy en die Fakkelflits vir nuus oor FOS en ons eerste sosiale kuier van 2021 in April dop. Daar sal ook later in die jaar ander geleenthede gereël word, ons sal julle op hoogte daarvan hou. Baie dankie vir julle almal se belangstelling en ondersteuning. Ek glo en vertrou dat ons saam ‘n groot sukses van FOS gaan maak.
- Ben Fouche

Voorsitter

16234775338971068470230329135269886552116042o

BOODSKAP VAN FOS

Die afgelope twee jaar was ‘n groot uitdaging vir ons almal as gevolg van Covid-19. Net soos ‘n groot aantal mense in
hul persoonlike of professionele lewens planne moes aanpas of afstel, moes FOS ook ons planne verander.
Ons het in 2019 goeie momentum begin ontwikkel en het groot planne vir 2020 gehad. Ons kon ongelukkig nie die
planne in werking stel nie. Ons kon nie die gesellighede reël waar ons saam kon kuier en idees kon uitruil nie. Ons het
egter almal se aandag probeer hou met die weeklikse insette oor oud-skoliere in die Fakkelf-Flitse. Dit is egter ook op
die Framesby en FOS Facebookgeplaas. Ek wil graag van die geleentheid gebruik om vir Mariné Snetler te bedank vir
al haar moeite en harde werk om die artikels geplaas te kry. Ek is seker dat almal hierdie artikels vreeslik geniet. So
kan almal weer ou vriende weer herondek, hulle herinneringe van hul skooldae beleef, en uitvind wat hulle na skool
gedoen het. Dit was heerlik om van hul skoolervaringe te lees, self nostalgies te raak en weer te onthou van die
wonderlike onderwysers wat deel gehad het in ons vorming as jong volwassenes. So het hulle ‘n groot impak op ons
toekoms gehad.


Ons het ook aan die begin van die jaar, deur middel van die FOS Facebookblad, by die oud-skoliere aangeklop om hulp
vir van die matrieks wat nie finansieel in staat was om die 2021 matriekbaadjies te kon bekostig nie. Ons het
ongelooflike reaksie ontvang, en ons het verseker dat elke matriek leerling ‘n baadjie ontvang het. Weer eens baie
dankie vir julle ongelooflike ondersteuning. Die poging het gewys dat ons as oud-leerlinge ‘n groot verskil in die lewens
van die Framesby-leerlinge, asook ander oud-skoliere kan maak.


Dit het ons egter laat dink oor wat ons saam as ‘n oud-leerlinggroep kan vermag, as ons saamstaan. Dit maak my
verskriklik opgewonde oor die toekoms van FOS!


Ek was in die bevoorregte posisie om gedurende die jaar met verskeie oud-skoliere oor idees wat ons vir FOS het te
praat , en hulle opinies te kry. Ek is dankbaar oor die positiewe reaksies wat ons sover ontvang. Dit is wel belangrik dat
ons terugvoering en idees van alle FOS-lede ontvang. Ons werk aan kommunikasiemiddels wat ons kan gebruik om
julle idees en terugvoering te ontvang. Vanaf die begin, was een van ons oogmerke om ‘n tuiste waar ons as
oud-leerlinge welkom kan voel te skep. Maar ons wil ook ‘n sterk netwerk van oud-leerlinge vorm wat mekaar in alle
aspekte sal ondersteun. Een van ons groot doelwitte is om ‘n elektroniese databasis te skep waartoe alle FOS-lede
toegang het en gebruik kan word vir bemarkingdoeleindes. Daar word FOS-lede hul besighede kan bemark, en ons
mekaar kan ondersteun. As jy ‘n oogarts, loodgieter, bouer, ens. soek, kan jy eers kyk of daar nie ‘n FOS-lid is wat die
diens verskaf nie (nie vir afslag nie, maar om mekaar te ondersteun).


Die realiteit is egter dat daar niks is wat ons as ‘n oud-leerdergroep kan vermag sonder fondse nie. Ons moet dus begin
om fondse in te samel wat ons kan gebruik vir die ontwikkeling van hierdie tipe inisiatiewe, asook om projekte aan te
pak wat Framesby en Leerders kan help.


Ons beoog om reeds hierdie jaar ‘n informele geselligheid vir al die oud-skoliere in die Port Elizabeth-omgewing te reël.
Dit sal heerlik wees om vir die eerste keer vanaf die begin van die Covid-19 grendelstaat weer saam te kan kuier. Ons
beplan ook om in 2022 verskeie gesellighede te reël, soos ‘n legende-aand, FOS-Golfdag, Wynproe-geleenthede, ‘n
groot kuier saam met die groot Framesby sport geleenthede, en soveel informele kuiers as moontlik. Die idee is om die
geleenthede nie net tot die Port Elizabeth-omgewing te beperk nie, maar in die ander groot stede waar daar FOS-lede
bly te reël.


Ons wil ook graag ‘n unieke en identifiseerbare FOS-identiteit skep, wat ondermeer FOS-kleredrag kan insluit. Dit sal
wonderlik wees om Framesby en FOS-geleenthede as ‘n groep te ondersteun, soos van die ander meer gevestigde
oud-skoliergroepe in Suid-Afrika. Ons moet wys dat ons trots is om deel van Hoërskool Framesby te wees. Al ons
pogings sal egter misluk as dit nie vir die oud-leerlinge wat FOS ondersteun en met ons kommunikeer nie. Ons versoek
julle daarom om asseblief betrokke te raak by FOS, ons te ondersteun en met ons te kommunikeer. Ek sien hoe
wonderlik ons Matriek WhatsAppgroep gegroei en ondersteun word. Dit sal wonderlik wees as elke Matriekgroep so ‘n
groep stig om met mekaar in verbinding te bly. Dit kan gebruik word om meer oud-leerlinge te bereik.
Namens myself, Deleon, Hannes en Barbara wil ons almal bedank vir die ondersteuning wat ons tot dusver ontvang
het. Ons hoop om julle sommer vinnig by een van ons FOS-gesellighede te sien. Kontak ons gerus om idees te
bespreek en te help planne maak vir die toekoms.


Ben Fouche

FOS - Voorsitter

FRAMESBY OUDSKOLIERE

ONS GESELS MET: LINDIE STRYDOM (VAN EEDEN)

Img20210608100315resized20210608100950089

Motiveringspreker en skrywer, aanbieder en aktrise, Lindie Strydom (van Eeden) het haar loopbaan by Hoërskool Framesby in 1992 begin. Sy het letterlik nie een skooldag gemis tot sy uiteindelik as hoofdogter in 1996 gematrikuleer het nie!
Een van haar talle hoogtepunte is verseker haar vyf jaar lange betrokkenheid by FRUK (Framesby Raad vir Uitvoerende Kunste) onder leiding van juffrou Martlie Jordaan. “Alles wat ek vandag weet, het ek by juffrou Martlie geleer - van toneelspeel en regie tot redenaars. Sy het my gereeld aan die diepkant ingegooi met verskillende rolle, asof sy geweet het daardie uitdaging is presies wat ek nodig het. Sy het ook geweet van my droom om eendag in Egoli te speel en toe ek te skaam was om myself voor te stel aan een van die regisseurs wat by ‘n dramakompetisie in Pretoria was waaraan ons deelgeneem het, het sy my so van agter af gestoot tot ek langs hom gestaan het. ‘n Ontmoeting wat uiteindelik gelei het tot ‘n 12-jaar loopbaan in hierdie sepie!”.


Behalwe vir ‘n verskeidenheid van kultuuraktiwiteite, het Lindie ook in 1996 Framesby se toekenning gewen as die mees veelsydige sportvrou. “Ek het bietjie spies gegooi en was trots op my plek in die eerste tennisspan, maar netbal en juffrou Lalla Schelbert het my verseker die meeste as mens gevorm. In my graad 9 jaar kon slegs ses van ons sewe spelers OP-proewe gaan speel. Ek was die enigste een wat nie gegaan het nie. ‘n Teleurstelling wat gemaak het dat ek net nog harder gewerk het en ‘n belangrike lewensles vir my pad vorentoe: ons storie stop nie by ons laagtepunte nie. Ek onthou hoe ek in die middae met my fiets skool toe gery het om doele te gaan oefen en ek het op die ou end in graad 10, 11 én 12 eerstespan gespeel en die o/19 OP-span in 1995 en 1996 verteenwoordig. Ek dink nie ek het al ooit weer in my lewe die kameradrie beleef wat ons span daardie jaar so sterk gemaak het nie.”


Lindie is duidelik sentimenteel oor haar hoërskool herinneringe en vertel van haar “BIG BRAG” (Framesby vs Andrew Rabie) toespraak waarop sy afgekom het. “Ek was kaptein van ons netbalspan en by die “BIG BRAG” stel jy jou spanlede voor op ‘n als behalwe ’n beskeie manier. Volgens tradisie het slegs die eerste rugbyspan van heel agter in die saal ingestap. Ons netbalspan was egter in daardie stadium onoorwonne na ons die topspan in die liga die vorige dag van die ‘baan gevee het’ (my woorde in my toespraak). Ons besluit toe om van die agterste kantdeur in te kom en tot heel voor te loop voor ek ewe windmakerig vertel het: ‘En glo my as ons dit met die topspan in die liga kon doen, sit ons ‘n kriekettelling teen Rabie op!’”


Lindie het haar jaar as hoofdogter afgesluit met die woorde: “Mag julle my onthou as iemand wat lojaal was teenoor ‘n skool waarvoor ek my alles gegee het en as ‘n dromer, want ek het geweet ek ken ‘n God wat Hom in onmoontlikhede verlustig.”

ONS GESELS MET: RONEL KAPPES

OUDSKOLIERE NUUS

Gematrikuleer : 1993
Van skool af onthou ek: Die Skeinat en Wiskunde onnies (mnr. Lombard en mnr. Miller), asook juffrou Bence! Ook die “culture club” – ‘n groep wat musiek as vak geneem het, koor gesing, orkes gespeel het ens. En om gereeld konserte by die Operahuis te gaan kyk! Ek mis die vriende wat ek op skool gemaak het, maar baie van ons hou tog nog kontak deur Facebook, en rare in-persoon besoeke. Dit is nogals verstommend, aangesien baie van ons nou in ander lande bly.


Ronel het na skool Chemiese Ingenieurswese by die PU vir CHO (nou Noord-Wes Universiteit) gaan studeer. Op die PUK het sy geleer van “flotation” (die proses wat gebruik word om baie minerale te konsentreer, soos koper minerale, goue minerale, die platinum groep metale, ens.).
Daar het sy die toekenning as die beste finale jaar student in “separation science” ontvang. As gevolg van haar belangstelling in “flotation”, het sy nagraads aan die Universiteit van Utah, in Salt Lake City Utah gaan studeer. Hier het sy ‘n Ph.D in metallurgiese ingenieurswese gekry-met die
fokus op “mineral processing”. Ronel was uiters bevoorreg om saam met een van die ikone in “flotation” in die wêreld, Prof. Jan Miller, te werk.
Na Ronel haar graad in Utah klaar gemaak het, het sy vir Newmont in Denver, Colorado begin werk. Newmont is tans die wêreld se grootste goud produseerder. Ronel is Newmont se kenner op die gebied van “flotation” en werk reg oor die wêreld. Een van Ronel se opwindendste
ervarings in haar werk was toe sy in 2017 ’n patentereg verkry het. Ronel dien ook op die direksie van AMIRA Internasionaal - ’n nie-winsgewende navorsingsorganisasie. Sy is ook onlangs tot die Internasionale Minerale Verwerkingskongres se raad verkies. Sy is baie betrokke by SMC (Society for Mining, Metallurgy and exploration). Sy is ‘n lid van die uitvoerende komitee van MPD. Hierdie dame kan ook skryf, hoor! Sy is nie net die uitvoerende redakteur van die “Mining, Metallurgy and Exploration” tydskrif nie, maar spog met verskeie gepubliseerde artikels in haar veld. Ronel word in 2009 as die uitstaande jong ingenieur aangewys. In 2014 word sy deur die Nasionale Akademie van Ingenieurs uitgenooi om deel te neem aan die Baanbrekers Ingenieursprogram.


Ronel geniet Denver, Colorado, saam met haar man en 3 honde baie. Sy is ook bevoorreg dat haar suster en haar man 5 jaar gelede ook Colorado toe getrek het.

dxt8268-edit

OUDSKOLIERE NUUS:

Biografie – Johan van der Mescht

Johan van der Mescht, ‘n oud-skolier van die Hoërskool Framesby en skrywer van die boek Die Army het jou nommer, is ‘n siviele ingenieur van beroep. Hy en sy gesin woon in die Langkloof, ‘n vallei ingevou tussen die Kougaberge in die noorde en Tsitsikammaberge in die suide.
Johan is in Port Elizabeth gebore. In 1969 begin hy sy skoolopleiding by Laerskool Verkenner en in 1980 matrikuleer hy aan Hoërskool Framesby. Ná skool studeer hy siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch. Met die voltooiing van sy studies in 1985 meld hy in Januarie 1986 vir verpligte militȇre diensplig aan. Hy ondergaan juniorleiersopleiding by Genieskool in Kroonstad waarna hy as offisier na 5 Militȇre Werke Eenheid in Pretoria uitgeplaas word. In hierdie tydperk word hy onder andere aangewend as Basisingenieur te Mpacha in die Oos-Caprivi.


Na afloop van sy twee jaar diensplig word hy oorgeplaas na 16 Genie Regiment, ‘n Burgermageenheid in die Oos-Kaap. Begin 1994 word hy bevorder tot die rang van Kaptein en, met die afskaffing van verpligte militȇre diens, sluit hy in 1995 aan as ‘n vrywilliger by Regiment Piet Retief, ‘n Reserwemageenheid gevestig in Port Elizabeth. Hy bly ‘n aktiewe lid van hierdie regiment tot en met sy uittrede in 2005 weens werk- en gesinsverpligtinge.


Die boek “Die Army het jou nommer” bevat ‘n reeks persoonlike vertellinge, meestal met ‘n humoristiese of nostalgiese ondertoon, uit die tydperk toe ‘n hele generasie jong mans uit ‘n sekere rassegroep moes aanmeld vir verpligte Nasionale Diensplig. Die staaltjies volg min of meer in kronologiese volgorde, vanaf kleintydse blootstelling aan die militȇre omgewing, tot deelname aan die Grensoorlog en die tydperk daarna.
Elke oud-soldaat het sy eie storie, goed of sleg, gebaseer op hoe hy as indiwidu die lewe in die Weermag ervaar het. Hierdie boek sal dus aanklank vind by die diensplig generasie, maar ook by hulle wat meer wil weet oor soldaat-wees in ‘n tydperk toe Suid-Afrika ‘n gedugte en goed toegeruste Weermag gehad het.


Enige nuus oor oudskoliere kan na mediasentrum@framesby.co.za ge-epos word.

16265369838970902403580263760888564324116088o

JOHNNY BILLSON : HOOFSEUN 1970

Op die foto oorhandig mnr. Germishuys die 50 jaar gedenkblad aan Johnny Billson in Pretoria. Johnny Billson was Hoërskool Framesby se eerste hoofseun.

1621645133897097120357338858833009306551506n
16258101938970971370240037851654550405729266o
16219115038970971336906708483586861505703765o

Stefan Tait - Framesby 2015

7831173326875005546503405137254341735874560n

Baie geluk aan Stefan wat gekies is om die Suid-Afrikaanse uitnodigingsspan te verteenwoordig vanaf 17 tot 19 Desember 2019 in Willowmore Park. Stefan speel tans vir SWD - waar hy gekontrakteer is tot 2020.
Framesby is baie trots op jou!!

top mediese student by kovsies

Nadia-moore-2015-318-x-420

Soos in 2012, 2013, 2014 en 2015 is NADIA MOORE in 2016 weer as Kovsies se top mediese student aangewys.  Uitstekend!!  Baie geluk van 'n trotse Framesby

seunshokkie 1989

89-hokkie

TAG RUGBY

ONNIES en OLD BOYS HAAL UIT EN WYS!!

Tag-rugby

Framesby se onnies en old boys het vanjaar vir die eerste keer 'n span in die Somerliga Tag Rugby ingeskryf en uitstekend gevaar.  'n Geesdriftige spanbestuurder, mnr. Dan van Schalkwyk het vanoggend met trots aangekondig dat die span met die Brons-medalje weggestap het en dat die waardevolle ondervinding wat hulle opgedoen het, hulle in 2016 'n groter krag sal maak.

 

Baie geluk aan die span:

Links na regs agter: Roelof Allers (onnie) ; Jacques du Preez (old boy) ; Konrad de Villiers (onnie) ; Handré Snetler (onnie) ; Juhan Meyer (onnie)

Links na regs voor: Cameron Jacobs (old boy) ; Jaco Grobler (old boy) ; Christo Scriven (onnie) ; Louis Gerber (onnie)

Afwesig: Stefan de Klerk (onnie) ; Reyners Barnard (old boy )

 

OUD-SKOLIERE DEEL VAN WENSPAN

CURRIEBEKER 1STE DIVISIE

Twee oud-leerders was die afgelope naweek deel van die Luiperds se rugbyspan wat die 1ste Divisie van die Curriebeker-kompetiesie gewen het.  Juan Language was nie net die kaptein van die span nie, maar het ook ’n reuse bydrae tot die wentelling gehad.  Hy het drie keer agter die doellyn gaan kuier en ons laat terugverlang na sy dae in die BLOKTRUI.


Bart le Roux wat vroeër vanjaar nog in Nieu Zealand gespeel het, was die ander lid van die span.


Knap gedaan manne, Framesby is trots op julle!!

juan-en-bart

oud-leerder presteer

In 2011 was Nadia Moore die TOP matrikulant in die Oos-Kaap en dit is duidelik dat sy nie op haar louere gaan rus het nie. Nadia het pas 2 toekennings ontvang het by KOVSIES se Mediese Prysuitdeling.

  •  Welch Allyn-prys vir die student met die hoogste finale gesamentlike punt in Kliniese Vaardigheid
  •  Derdejaar Skool vir Geneeskunde-wisseltrofee vir die student met die hoogste gemiddelde punt in al die modules in die derde jaar

Baie geluk met hierdie merkwaardige prestasie Nadia, Framesby is trots op jou!!  

nadia-moore

Die matrieks van 2011.

Fralumni van die Kaap kom bymekaar

Onthou jy nog?

Wat 'n geleentheid, om 'n groep Framesby Oud-skoliere van die 70's wat in die Kaap-omgewing woon, bymekaar te kon sien.  Wat dit nog beter gemaak het, is die feit dat ons eerste skoolhoof, mnr. Visser en die legendariese Biologie-onderwyser van dié era, mnr. Rautenbach ook daar was.


Baie dankie aan Dana en Ettiene Buys wat ons op hulle wynplaas, Vrede en Lust onthaal het, voorwaar 'n wonderlike "Fralumni -Kaapstad Klubhuis" wat die naweek onthul is.


Sluit by ons oud-skoliere bond - FRALUMNI aan sodat julle op hoogte gehou kan word van hierdie tipe byeenkomste.

70-vrede-en-lust
riccardo-banner

OUD-LEERDER PRESTEER

Mnr Riccardo Swanepoel is gisteraand (7 Desember) tydens die gradeplegtigheid van die Fakulteite AgriWetenskappe en Ingenieurswese aangewys as die ontvanger van die Universiteit Stellenbosch (US) se Kanseliersmedalje vir 2016. Dié toekenning is die hoogste lof wat die US aan 'n student betoon.
Die Kanseliersmedalje word jaarliks toegeken aan 'n finalejaarstudent of 'n nagraadse student wat uitnemend presteer het. Prof Eugene Cloete, wat Swanepoel se commendatio voorgelees het, het gesê dat dit 'n "bykans onmoontlike taak is om aan 'n byna 100 jaar oue universiteit iets te bereik wat niemand anders nog vantevore reggekry het nie, maar vanjaar se ontvanger het wel".  Hy het Swanepoel beskryf as 'n  "besonder waardige ontvanger".
Swanepoel, 'n boorling van Port-Elizabeth en oud-leerder van die Hoërskool Framesby, het geskiedenis gemaak aan die Universiteit Stellenbosch toe hy 100% vir sy finale projek in Ontwerp behaal – iets wat geen student nog kon regkry nie. Dit is dus geen wonder nie dat sy Ontwerpprojek as "straks die absolute hoogtepunt in voorgraadse prestasie" in die Fakulteit beskryf is.
Boonop het hy 93% vir sy finalejaarsprojek ontvang, die hoogste nog in die Fakulteit. Sy werk is van sulke uitstaande gehalte dat dit aangebied is vir publikasie in 'n spesiale uitgawe van die International Journal of Chemical Engineering Data.
Swanepoel het sy BIng-graad met 'n gemiddeld van 94.1% behaal, slegs 0,9% laer as die hoogste persentasie wat nog in die program behaal is. Gedurende sy vier jaar aan die US het hy 42 van sy 44 modules met onderskeiding geslaag.
Maar Swanepoel het nie net in die klaskamer presteer nie. Hy was ook van 2013 tot 2015 redakteur van Eendrag Manskoshuis se koerant en stigter en bestuurder van die koshuis se taal- en vertalingskomitee.
Dié begaafde Matie is egter nie net vlug van begrip nie, maar boonop vlugvoetig op die dansbaan ook:  van 2008 tot 2011 het hy goue toekennings vir baldans (ballroom dancing) ontvang.
Swanepoel het die toekenning as 'n "enorme eer" beskryf en gesê dit het eers later behoorlik by hom ingesink toe mense hom op straat gelukwens met die prestasie. Hy skryf sy akademiese sukses toe aan "baie nagte sonder slaap" en deursettingsvermoë. Swanepoel sal aanstaande jaar sy M-studies aan die US voortsit en hoop om dit later om te skakel in 'n PhD.
Onderskrif: Mr Riccardo Swanepoel saam met die Kanselier van die US, Dr Johann Rupert. Foto: Stefan Els

Hoërskool Framesby:  "Waar potensiaal verwesenlik word"

Nec-eastcapesmall
Klinicare-logo
Vox-green-logo-vector-1
Puma-logo-f9e13b654c-seeklogocom
Sunridge-superspar

OK / Close
Who doesn't like cookies?
This website uses cookies to ensure you get the best experience. Read more...